Registrasie & intekening sal binnekort weer beskikbaar wees

 terug

  Prestasies bekroon by Aardklop
’n Opdrag-produksie van die Aardklop Nasionale Kunstefees, Skrapnel, het weggestap met twee groot pryse wat jaarliks toegeken word, terwyl twee Engelse produksies erkenning gekry het deur die twee toneelspelpryse in te palm.

Sowel die AngloGold Ashanti Smeltkroes-prys vir die beste nuwe Afrikaanse verhoogteks en die Beeld Plus Aartvark-prys vir grensverskuiwende werk gaan vanjaar aan die Skrapnel, wat by die fees gedebuteer het. Die Smeltkroes-prys word toegeken aan die dramaturg Willem Anker vir sy teks en die Aartvark-prys aan regisseur en ontwerper Jaco Bouwer vir die produksie.

Die Absa-prys ter waarde van R10 000 vir beste aktrise word gesamentlik toegeken aan Faniswa Yisa en Jennie Reznek vir hulle vertolking in Every Year, Every Day, I Am Walking. Die beoordelaars het gevoel dat die ensemblespel van so ’n aard is dat nie een van die twee aktrises afsonderlik uitgesonder kan word nie. Ander benoemdes in dié kategorie was Sandra Prinsloo vir Die naaimasjien en Lindiwe Matshikiza vir The Famished Road.

Themba Ntuli ontvang die Absa-prys vir beste akteur vir sy vertolking in The Famished Road. Die ander benoemdes was Deon Coetzee vir My Sarie Marais en Andrew Thompson vir Skrapnel.

Die AngloGold Ashanti Smeltkroes-prys word toegeken aan ’n oorspronklike Afrikaanse teks wat op Aardklop debuteer. Daar word onder meer gelet op toneel- of verhoogmatigheid, lewensvatbaarheid en die samhang tussen die geskrewe woord en die realisering daarvan op die verhoog. Willem Anker se prysgeld beloop R30 000. Verder word nog  R58 000 vir die produksie bewillig om dit ná die fees verder aan te bied en te bemark.

Die Beeld Plus Aartvark-prys vir grensverskuiwende werk bekroon nie die beste produksie op die fees nie. Dit kan toegeken word aan enige produksie of gebeurtenis op die Aardklop-kunstefees wat van innovering getuig en bestaande kunsgrense verskuif. Alle tentoonstellings, opvoerings, konserte en gebeurtenisse wat op die fees gedebuteer het, is dus in aanmerking geneem. Bouwer ontvang ’n kontantbedrag van R20 000 asook ’n beeldhouwerk Lothar Böttcher ter waarde van meer as R10 000.

Die Smeltkroes is vanjaar vir die negende keer toegeken en die Aartvark vir die elfde keer. Die Smeltkroes-paneel vanjaar was Diane de Beer, Fahiem Stellenboom, Johan Myburg, Marietha Channell en Kabous Meiring. De Beer, Myburg en Stellenboom het ook in die Aartvark-beoordelaarspaneel gedien saam met Herman van der Westhuizen (sameroeper) en Marten van Wyk.

Vorige wenners van die Aartvarkprys sluit in Lara Foot Newton, Karin Hougaard, Willem Boshoff, Marthinus Basson, Leán Coetzer, Tart ’n Koggel met hul Skroothonde, Gys de Villiers, Marco Cianfanelli en Jaci Smith, terwyl Harry Kalmer, Gys de Villiers, Henriëtta Gryffenberg, Leon Kruger, Reza de Wet en Malan Steyn (saam met Ilse Oppelt) die Smeltkroes al gewen het.
Die toekennings vir die vernaamste prestasies op die Aardklop-fees het gesamentlik ’n prysgeld van bykans R120 000.

Die Aardklop Nasionale Kunstefees loop Saterdag ten einde.